Van: Die Griffier, Hoogste Hof van Appél
Neem asseblief kennis dat die media opsomming bedoel is vir die voordeel van die media en vorm nie deel van die uitspraak van die Hoogste Hof van Appél nie.
ADRIAAN JACOBUS VAN WYK v DIE STAAT
Die Hoogste Hof van Appél het vandag die appél van Mnr A J van Wyk afgewys, nadat hy geappelleer het teen die beslissing van die Pretoria Hooggeregshof wat borg geweier het. Die appellant is ‘n beskuldigde in die sogenaamde Boeremagverhoor waar hy op hoogverraad en ander ernstige misdrywe teregstaan. Die HHA het bevind dat ten opsigte van die aanklag van hoogverraad (‘n skedule 5 aanklag) die staat ‘n sterk prima facie saak teen die appellant het en as hy skuldig bevind word, ‘n langtermyn gevangenisstraf in die gesig staar. Daar was getuienis van ‘n infrastruktuur van simpatiseerders en ondersteuners wat in die verlede samesweerders bygestaan en versteek het. Inaggenome die appellant se persoonlike omstandighede, het die Hof bevind dat daar ‘n wesenlike vooruitsig bestaan dat as hy op borg vrygelaat word, hy op een of ander stadium in versoeking sal wees om te verdwyn en sy verhoor te ontwyk. As gevolg van die bostaande het die HHA bevind dat dit nie in die belang van geregtigheid sou wees om appellant op borg vry te laat nie.
|